Gevaarlike fiksie

Sidney GilroyAfrikaanse Skrywer

Donker, vinnige Afrikaanse fiksie wat jou tot laatnag laat lees met karakters wat jou nooit heeltemal laat ontspan of laat gaan nie.

OOR DIE SKRYWER

Plattelande Noir op sy beste

Sidney Gilroy (1980) is gebore in Virginia in die Vrystaat. Sonder enige formele opleiding in kreatiewe skryfkuns het hy in 2015 begin kortverhale skryf en twee jaar later aan sy eerste roman begin werk. Sy debuutroman, Klikbek, is in 2019 deur Human & Rousseau gepubliseer en is vir die ATKV-Woordveertjie, die UJ-debuutprys en die kykNET-Rapport-prys vir Film benoem.

Gilroy se skryfstyl word dikwels as onhutsend, filmies en rou beskryf, met karakters wat diep-menslik, eg en kompleks is. Sy boeke beweeg gemaklik tussen spanningsfiksie, krimi, sielkundige rillers en verhoudingsverhale, en word gekenmerk deur donker temas, sterk atmosfeer en verrassende draaie. Tans woon hy in Reebok aan die Suidkaap, waar hy as stokperdjie skryf en sy eie maatskappy bedryf.

“Middernag bevat al die bestanddele vir ’n onvergeetlike film.”— Beer Adriaanse, kykNET-Rapport (Commendatio vir Filmprys, 2021)

Romans

Die Boeke

Omslag van Binnekort

Binnekort

Sidney Gilroy se volgende boek verskyn binnekort. Hou die pers en Human & Rousseau se sosiale media dop.

Omslag van Roulette

Roulette

2025

In 1998 was hulle onskuldige tieners. In 2025 is hulle verdagtes. Sersant Sollie Mthembu se nuwe ondersoek lei hom terug na 'n onopgeloste dossier van die negentigs. Om die moordenaar te stuit, en tegelyk iemand na aan hom se lewe te red, moet Sollie agter die kap van die byl kom: Is dit wraak? Of word mense stilgemaak? Gilroy se vyfde roman — 'n onthutsende krimi oor familiegeheime en gevaarlike speletjies.

Omslag van Bloedsomer

Bloedsomer

2024

Petunia Moraleng, voormalige stasiebevelvoerder op Parys, is haar rang kwyt en oorgeplaas Mooibaai toe. Vroeg in Desember word die oorskot van twee jong vroue ontdek en oornag bevind sy haarself as die hoofondersoeker in 'n raaiselagtige moordsaak. Wat het Die Clowns, 'n Russiese skeepskaptein en die matriag van die vooraanstaande Heemstra-familie se testament gemeen? En waar kom die albaster in die eerste slagoffer se hand vandaan?

Omslag van Vlam

Vlam

2022

Sollie Mthembu se huwelik lê aan skerwe. Nyandi het die kinders gevat en is sak en pak terug Lesotho toe. Terwyl hy in 'n Bloemfonteinse gastehuis lê en tob oor waarom Nyandi hom sou wantrou, brand 'n kunsgalery op Parys tot op die grond af. Die wêreldberoemde kunstenaar Aretha Hattingh se oeuvre — en tuiste — nou 'n hoop as. En in die middel van die ruïne: die oorskot van 'n vrou, vermoedelik dié van Aretha. Is dit moord? Selfdood? Of bloot 'n fratsongeluk?

Omslag van Middernag

Middernag

2020

Die oorskot van 'n verminkte vierjarige word in die vroeë oggendure in 'n Frutti Tutti-roomyskarretjie in Harrismith ontdek. Kaptein Brummels besluit oornag om Parkwegstasie se bulhond, Sollie Mthembu, saam te sleep om 'n oudkollega met die ondersoek te help. Sollie lyk dalk na 'n onervare sersant wat dikwels oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie. Bekroon met die kykNet-Rapport-filmprys in 2021.

Omslag van Klikbek

Klikbek

2019

Speurder Sollie Mthembu lê snags wakker oor of sy salaris ooit sy vrou se ambisies sal ewenaar. Maar in Oktober verdwyn 'n ou vriend van die polisiekommissaris en hy word opdrag gegee om dié “verdwyning” te ondersoek. Kort ná hy in Rhynveld arriveer verander die oënskynlike ontvoering in ’n moordsaak en Sollie moet sy vrese opsy skuif sodat sy speurvernuf kan seëvier.

Koop die boeke

Beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars.

Klik op 'n handelaar om Sidney Gilroy se titels te vind.